’n Karoo boervrou

se getuienis

van hoop, herstel

en God

se getrouheid

Van Droogte tot Roeping (Jes 44:3) Deur Carla Marais

Van Droogte tot Roeping
(Jes 44:3)
Deur Carla Marais

Ek het nie hierdie pad gekies nie. As ek eerlik is, sou ek ’n ander een gekies het…

Ek het nie hierdie pad gekies nie. As ek eerlik is, sou ek ’n ander een gekies het…

’n Pad waar die reën betyds val, waar die veld groen bly, en waar daar genoeg is in die krale en vrede in my hart. Ek sou ’n lewe gekies het waar ek kan beplan en seker wees, waar die toekoms nie soos ’n vraagteken oor die vlaktes hang nie.

Maar Vader, in Sy wysheid, het my deur die Karoo droogte gelei — hier waar die aarde oopbars onder jou voete en die wind sy eie stories fluister vir dié wat bereid is om te luister.

’n Pad waar die reën betyds val, waar die veld groen bly, en waar daar genoeg is in die krale en vrede in my hart. Ek sou ’n lewe gekies het waar ek kan beplan en seker wees, waar die toekoms nie soos ’n vraagteken oor die vlaktes hang nie.

Maar Vader, in Sy wysheid, het my deur die Karoo droogte gelei — hier waar die aarde oopbars onder jou voete en die wind sy eie stories fluister vir dié wat bereid is om te luister.

Die Karoo het my geleer wat geen mens my ooit kon leer nie. Dit het my geleer dat jy nie in beheer is nie, al werk jy hoe hard. Jy kan ploeg, jy kan plant, jy kan voorberei, maar uiteindelik bly jy afhanklik van die hemel. Hier leer jy om te wag — vir reën, vir uitkoms, vir Vader se hand om te beweeg. Jy leer om die horison dop te hou vir wolke wat soms nie kom nie, en tog bly jy hoop. Jy leer om die kleinste teken van lewe raak te sien — ’n titseltjie groen tussen die dorheid, ’n verandering in die wind, ’n belofte wat nog nie sigbaar is nie.

Vir tien jaar het die droogte oor ons streek gelê. Jaar na jaar het die veld sy kleur alhoe meer verloor, en wat eers groen was, het stadig verander na vaal en toe na stof. Die diere het begin swaarkry, en elke seisoen het moeiliker geword as die vorige een. Besluite het swaar geword, en elke dag het meer van my gevra as wat ek gevoel het ek kon gee.

Maar die ergste was nie net wat rondom my gebeur het nie, dit was wat binne-in my begin gebeur het.

Die droogte het stil-stil in my siel ingekruip. Dit het nie oornag gebeur nie, maar stadig, amper ongemerk. Soos ’n dam wat nie weer vol word nie, soos grond wat te lank sonder reën gelos is, het my hart begin uitdroog.

Van buite af het ek aangegaan soos altyd. Ek het gewerk, my verantwoordelikhede nagekom, en my rol vervul soos ’n boervrou van die plaas maar doen. Ek het geglimlag wanneer mense kyk en sterk gebly waar dit nodig was. Maar binne-in my het daar ’n leegheid begin groei — ’n stilte wat nie vrede was nie, maar eerder ’n afwesigheid van lewe.

Ek onthou die dag toe ek nie meer daardie leegheid kon ignoreer nie. Dit was nie ’n dramatiese oomblik nie, geen storm of ramp nie — net ’n eenvoudige, stil oomblik wat my hart oopgebreek het.

Ek het by die tuinhekkie gestaan toe ek haar sien: ’n maer ooi, uitgeteer van die droogte. Haar lyf het die tekens van swaarkry gedra, maar dit was haar oë wat my getref het — oë wat nog soek, nog hoop, al is daar byna niks oor nie.

Toe roep sy.

En daardie roep was nie net ’n klank nie; dit was ’n pleidooi. Dit het deur alles gebreek wat ek probeer bymekaar hou het. Dit het my diep binne-in getref, want in daardie oomblik het ek geweet: ek het niks om vir haar te gee nie. Nie kos nie, nie oplossing nie, nie uitkoms nie.

En skielik het alles wat ek al vir jare probeer dra het, op my neergekom — elke verlies, elke onbeantwoorde gebed, elke hoop wat stadig doodgegaan het.

Daar, by daardie hekkie, het iets in my gebreek.

Ek het besef ek is leeg. Ek het nie meer antwoorde gehad nie. Ek het nie meer krag gehad om voor te gee nie.

Ek het nie geweet wat om te doen nie.

En tog, in daardie oomblik van totale hulpeloosheid, was ek presies waar God my wou hê. In nederigheid by Sy voete.

Toe ek nie meer kon aanhou op my eie nie, het ek na Jesus toe gegaan. Letterlik deur my tuinhekkie gestap. Nie met mooi, afgeronde gebede nie, en nie met ’n geloof wat sterk en seker voel nie. Ek het gekom met ’n gebroke hart, met vrae wat geen mens kon antwoord nie, en met ’n siel wat dors was na iets wat ek self nie kon gee nie.

In daardie stil, heilige plek het ek iets ontdek wat my lewe verander het: Vader is nie bang vir ons gebrokenheid nie. Hy trek nie weg wanneer ons uitmekaar val nie — Hy kom juis dan nader. Ons moet net ons hand uitsteek.

Ek het Sy teenwoordigheid ervaar op ’n manier wat ek nog nooit tevore geken het nie. Dit was nie hard of dramaties nie, maar sag en seker — soos ’n fluistering in my hart: “Kom nader.”

En ek het.

Sonder maskers, sonder antwoorde, sonder krag — net ek en my seer.

En daar, in die stilte, het iets nuuts begin groei.

Dit was in hierdie tyd van restorasie dat die droom gekom het. Nag na nag het ek dieselfde beeld gesien: ’n enkele wit Aster wat staan in ’n droë, dooie veld.

Dit het nie sin gemaak nie. Daardie blom het nie daar gehoort nie. En tog het dit bly terugkom, soos ’n boodskap wat nie geïgnoreer kon word nie.

Ek het begin soek daarna in die veld, my oë oop vir enige teken van lewe, maar ek het niks gekry nie. Dit was nie ’n blom wat ek al gesien het in my tydperk in die Karoo nie.

Uiteindelik het ek besef die antwoord lê nie in die veld nie, maar weer in die stilte by God.

Toe ek weer gaan sit en luister, het Vader my begin toerus: die Aster beteken “ster” — ’n lig in die donker. Dit was ’n teken van hoop, ’n herinnering dat selfs in die donkerste plekke, lig kan deurbreek.

En toe het Vader iets nog dieper in my hart kom plant: die Aster blom nie in die storm nie; dit blom ná die storm.

Daardie waarheid het my anders laat kyk na alles rondom my.

Kort daarna, asof God my wou bevestig, het ek dit gesien, ’n wit blom, presies soos in my droom, wat staan in die veld. En nie lank daarna nie, het die veld begin verander.

Want in daardie tyd het ons ’n bui reën oor ’n deel van ons plaas gehad.

Waar daar net stof en dood was, het nuwe lewe begin deurbreek. Wit Asters het begin verskyn, soos stille getuies van God se getrouheid.

In daardie selfde seisoen het God vir my ’n naam gegee: Deborah — die by. ’n Draer van heuning, van soetheid wat uit harde, droë plekke kom.

En toe het alles begin sin maak.

Die droogte, die pyn, die wagtyd, die gebrokenheid — dit alles was nie verniet nie. God was besig om my te vorm, om harde grond in my hart oop te breek, om my leeg te maak van myself sodat Hy my kan vul met Sy lewe.

Hy het my geroep om ’n ligdraer te wees — ’n draer van hoop vir die wat moed verloor het, ’n draer van lewe vir die wat droog geword het, ’n draer van genesing en bevryding vir die wat vasgevang sit in hul eie seisoene van droogte.

Soos die by heuning vind waar ander net dorheid sien, het Vader my geleer om Sy soetheid te dra na plekke wat dit die nodigste het.

Vandag staan ek nie meer net as ’n boervrou van die Karoo nie, maar as iemand wat eerstehands weet wat dit beteken om deur ’n droogte te gaan — en wat dit beteken wanneer Vader bring, wat net Hy kan bring.

Ek weet hoe dit voel wanneer alles verlore lyk, wanneer jou hart leeg is en jou krag op is.

Maar ek weet ook dat Vader getrou is. Hy vergeet nie. Hy werk, selfs wanneer ons dit nie sien nie.

En wanneer Sy tyd kom, bring Hy reën. Hy bring lewe. Hy bring herstel. Hy bring oorwinning en bevryding.

So as jy vandag in ’n droogte staan, as jou hart moeg is en jou hoop begin verdwyn, wil ek vir jou sê: moenie moed opgee nie.

Vader is nader as wat jy dink. Hy werk in die stilte.

En soos die Aster ná die storm blom, so sal lewe weer in jou opkom.

Jy moet net jou verhouding intiem met Vader herstel. Hom jou alles en nog meer maak.

Vader roep elkeen van ons om ’n draer in Sy Koninkryk te wees —
’n draer van hoop,
’n draer van lewe,
’n draer van Sy teenwoordigheid
vir ’n wêreld wat dors is vir reënwater.

(Joh 7:38)